RSS

Random gedagtes: As die byl geswaai word in jou bos …

16 Mar

Nog een van die bome in my uitgebreide familie het geval. Die boom was meer as gereed, eintlik gretig, vir die byl. Haar groei was alreeds gestuit, haar wortels het nie meer water gevind nie en ek vermoed haar takkies kon nie meer die son voel skyn nie. Met elke kuierslag was die blare meer verskrompel en verdroog, met elke kuierslag was die unieke gees minder sigbaar.
By die plaashuis het alles voortgegaan, asof sy weer sou terugkom. Haar geliefde diere het nie verstaan hierdie weggaan was vir altyd nie. Die tuin het aanhou blom, die suurlemoen dra steeds. In die hok onder die vyeboom het die konyne stil-stil hulle gang gegaan. Die poue en tarentale kom slaap nog saans in die peperbome. Die muskeljaatkat sal weer kom kuikens soek, die geelkapel se sleepsel sal steeds soms in die sand kom lê.
Maar die weeklikse vier brandewynterte word nie meer gebak nie. Die vuur onder die roosterkoek het koud geword. Die gholfkarretjie kon haar nie meer melkery toe vat nie, sy was nie meer saans agter die tafel as die werkers hulle goedjies kom koop nie. Die Mercedes het nie meer Donderdae sy vrag goedheid op die dorp gaan haal en sy gawes van die plaas af vir die dorpenaars aangedra nie.
Die werf het gewag, maar die mense het geweet sy kom nie terug nie. En naderhand nie meer geweet hoe om dit te probeer beter maak vir haar nie. Die magteloosheid het die afskeid nog swaarder gemaak.
Maar gelukkig sal die herinneringe bly. Ek sien ‘n dogtertjie in ‘n peperboom sit saam met ‘n jong bobbejaan terwyl hy geduldig vlooie soek in haar lang hare. En die dogtertjie se skok toe Kees ‘n jaar of wat later nie meer ‘n veilige speelmaat was nie. Ek sien ‘n student (ja, regtig) een lente hoog in die lukwartboom sit en droom. Ek eet kaiings en kookvleis en ek slaap snags salig in die bekende hol bedjie. Die radio kraak langs die middeldeur, die plaasbedrywighede kom nog tot in die huis. Maar die skaapkraal is al leeg, daar is nie meer ‘n koei wat gedokter word of pieperige volstruiskuikens wat grootgetroetel word nie.
Ek stap weer met die honde veld in, kom lewer verslag oor die wild wat ek gesien het, pluk namens haar vir die mak elandjies ‘n stukkie groenigheid. Buks en Wollie kan nie genoeg van die opwinding kry nie, ou Boela kom vasberade met stram litte agterna. Maar verseg om tuis te bly. En toe die bobbejaanmannetjie dit naby die huis durf waag, is dit Boela se blaf wat hom verjaag. (En my skrikkerige gilletjies deur die kamervenster!)
Haar stoel is leeg, die breiwerkie in die geskenksakkie onvoltooid. Maar in ons harte sal haar plek warm bly.

 
4 Kommentaar

Posted by op 16/03/2011 in Ouderdom, Random gedagtes

 

Etikette: ,

4 responses to “Random gedagtes: As die byl geswaai word in jou bos …

  1. leonvonmoltke

    16/03/2011 at 13:03

    Mooi geskryf!

     
  2. seegogga

    16/03/2011 at 16:06

    Stem.

     
  3. Yvettedevilliers

    17/03/2011 at 08:22

    Dis hulde en onthou van ‘n hartsmens.

     
  4. Johane

    20/03/2011 at 09:03

    So mooi! Hoekom praat ons so min oor die dinge wat ons regtig raak?

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: