Liefdesroman: Geur van vergifnis

Geur van vergifnis is ‘n opvolg van my eerste liefdesroman, Geur van genade en verskyn (DV) in April. Die boeke kan egter ook apart gelees word. Die karakters is soos in die eerste boek, nie jonk en/of beeldskoon nie en hulle is propvol foute waarvoor hulle hulself en mekaar moet vergeef. Hier volg ‘n kort uittreksel:

By die huis gaan skink Mariaan eerste vir haar ‘n stywe dop. Toe sit sy haar musiek hard aan, ordentlik hard. Daar’s steeds niks soos harde rock om haar woelende binneste tot bedaring te bring nie. En niemand beter hiervoor as Elvis nie. The King, inderdaad.

Nevvermaaind die bure, vanaand  moet sy weer na hulle blêrende TV  luister. Hulle moet die ding maar net harder stel. Hoe enige mens soveel tyd voor die TV kan omsit, verstaan sy in elk geval nie. Haar dag het nooit genoeg ure nie. As sy nie in ander mense se tuine werk nie, werk sy in haar eie tuin. In die tyd wat oor is, kuier sy by Lana of enkele ander vriende, lees sy stapels liefdesverhale om haar siniese kant te balanseer, vertroetel haar spul katte – en tob oor Marius Jansen.

En laasgenoemde neem stadig al meer en meer tyd in beslag. En voel meer en meer futiel.

Met Madonna op haar skoot sak sy op die ou uitgesakte bank op die agterstoep neer. Die kat strek haar latlyf sensueel uit, knie ‘n bietjie met die voorpote, maak haar dan gerieflik tuis op die stowwerige kakiebroek.  Die blou Siamese oë bly egter vraend na haar opkyk uit die donker, hartvormige gevreetjie. Mense wat glo katte is onnosel, kan maar gerus in hul eie onnoselheid so bly glo. Vandag voel hierdie dier haar ontsteltenis aan.

Hier het Lana ‘n jaar gelede gesit met Marius se kind by die bloedjong Amanda Dreyer  in die stootkarretjie langs haar. Hier het Mariaan gehoor van die volle omvang van die verwoesting wat die man wat sy liefhet in ander mense se lewe gesaai het. Van die aborsie wat Lana gehad het, die ontdekking van sy verhouding met Amanda wat haar die Karoo in gedryf het om by haar suster te gaan troos soek. En wat haar toe in Wilhelm se wit huisie in die kloof laat beland het.

Hier het Wilhelm se tyding hulle daardie selfde agtermiddag bereik, die tyding dat Marius vir Lana in die Karoo gaan soek het en daarin geslaag het om homself in sy dinges in te ry met die verdomde motorfiets. En dat Wilhelm op sy draftog waaragtig die een was wat die ongeluk moes aanskou, wat as dokter geweet het wat om te doen, wat die man van die afgeleë Karoo-vlakte af in die hospitaal gekry het. Betyds om sy lewe te red.

Maar sy rug was af, daaraan kon niemand iets doen nie. Soos niemand nou aan sy onvermoë om aan te pas, iets kan doen nie. Behalwe hyself, natuurlik.

Toe haar senuwees ‘n bietjie bedaar het, bel sy vir Lana. “As jy kon opstaan uit die gemors wat jou lewe was, kan ek wragtig nie verstaan hoekom kan die blerrie man homself nie ook regruk nie,” sê sy vir haar ou pel wat destyds by ‘n selfmoordpoging gaan draai het en vandag die toonbeeld van ‘n storieboekvrou met ‘n storieboeklewe is.

“Jy vergeet ek het hulp gehad,” sê Lana op haar sagte manier. “Ek het vir Wilhelm in die Karoo gekry – en deur hom het ek vir God ook weer daar in die klowe ontmoet.”

“Ja, ja, ek weet.” Sy druk die sigaret venynig dood in die oorvol perlemoenskulp langs haar op die vloer. Madonna druk haar toonnaels geïrriteerd in haar bobene in, ontevrede oor die gewoel, die rook in haar gesig en die harde gepraat. “Maar jy weet so goed soos ek ek is nie die regte een om vir Marius Jansen te bekeer nie. En ‘n Karooplaas het ek ongelukkig nie.”

Lana lag haar geduldige laggie: “Dan sal jy ‘n ander plan moet maak. Wil hy nog nie kopgee oor die troue nie? Jy weet, dis net twee weke.”

“Ek weet dis net twee weke, Lana! En die donnerse man is so koppig soos ‘n muil. Vandag is ek lus en los hom in sy eie ellende. Ek is gatvol …”

“Vriendin, hoekom is jy vandag so ekstra kwaad?”

“Sorry, man, ek sal ophou vloek. Maar ek is so die bliksem in …” Sy moet maar teensinnig vir haarself begin lag.

“Ek is bekommerd oor jou, Mariaan.”

“Ek worry oor myself ook.” Madonna spring van haar skoot af met ‘n laaste verwytende kyk. Bruce neem dadelik haar  plek in, sy gespierde lyf in topkondisie ten spyte van sy jare, sy goue oë die ene uitdaging. Pure Springsteen in katgewaad. Hy kort wragtig net die kitaar.

“Dan moet jy iets doen, vriendin. Jy’t destyds vir my vertel jy gaan jou nie deur Marius laat fynmaal nie – onthou jy hoe seker was jy? En nou …”

“Ja, ja, ek onthou presies.”

“Nou doen dan iets.”

“Ek weet nie wat nie.”

“Dan is dit die tyd vir bid, vriendin, as jou eie rate op is.”

“Jy weet ek glo nie in die gebiddery nie, Lana.”

“Dalk moet jy dit in elk geval probeer.”

Mariaan druk summier die knoppie om die verbinding te verbreek, stamp haar gunstelingkat geïrriteerd van haar skoot af. Ag Vader, ek weet nie hoe nie, dink sy in haar nood.

En besef toe dat sy in elk geval alreeds aan die bid is.

Een gedagte oor “Liefdesroman: Geur van vergifnis

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s