Woordfees 2011

Ek het lankal op die harde manier uitgevind dis nie altyd so maklik om ‘n fees hier naby by te woon nie. Jy kan nie uittree uit jou daaglikse lewe en vir ‘n paar dae heeltemal weggaan en in ‘n salige vakuum van bitter min verantwoordelikheid jouself oorgee aan die plesiere van feeshou nie. Nee, jy hang die wasgoed op, jaag na ‘n show toe, kom maak iets reg vir aandete, jaag vir nog ‘n show …  Faktore wat die Woordfees en Cultivaria  vir my gekompliseerd maak, tot so ‘n mate dat ek af en toe ‘n jaar heeltemal oorslaan.

Vanjaar het ek my laat verlei deur sommige van die wonderlike skrywersgesprekke wat by die Woordfees aangebied word. Met seer bene en ‘n lam rug kan ek dus rapporteer dat ek vandag ‘n indrukwekkende lys skrywers van allerlei aard hoor praat het: Elsa Joubert (Die Reisiger – tweede deel van haar outobiografie), Nadia de Kock (Heildronk op ‘n gypsyromp – tweede regte egte chick-lit roman in Afrikaans), Helene de Kock (omtrent veertig liefdesverhale – o.a. Somersneeu), asook die digters Danie Marais (heerlike verrassing – en hy het nog kuiltjies ook!), Lina Spies (lyk en klink nog presies soos amper veertig jaar gelede toe ek by haar klas gehad het), Petra Müller (lyk in haar middel-sewentigs nie ‘n dag ouer as sestig nie), Joke van Leeuwen (sprankelende Nederlands/Vlaamse digter wat die taal laat sing) en T.T. Cloete (amper 87, gebroke liggaam, vlymskerp gees en verstand – wat ‘n belewenis!).

Ek volstaan met ‘n poging om iets te herroep van wat hulle gesê het. (Natuurlik nie woordeliks korrek nie.) Ek het natuurlik alreeds die meeste van die detail vergeet, maar die wondermooie klank van hul woorde sal nog lank in my onderbewussyn vassteek.

Elsa Joubert – Ek wil hê elkeen moet gaan sit en iets oor jul lewe skryf.
Nadia de Kock – Die toppunt van dumbing down is ‘n nasie wat nie meer lees nie.
Helene de Kock – Daar is in die ernstige liefdesroman ook humor teenwoordig, maar dan is dit lag met ‘n traan.
Prof. TT Cloete – Ek is nog steeds verwonderd oor hoe dinge in die heelal werk (onthou sy ouderdom).
Lina Spies – In die herfs en winterreën kan ek ontdek my liefde vir Stellenbosch is ‘n liefde vir elke seisoen.
Petra Müller – ‘n Handvol gedigte oor die kleur geel.
Joke van Leeuwen – As ek vir kinders skryf is humor belangrik en om hulle te wys ‘n mens kan speel met die taal.
T.T. Cloete – Ons behoort oor die dood netsoveel te praat as oor die lewe. Dis deel van die lewe.

En nou knik my kop …

H

3 gedagtes oor “Woordfees 2011

  1. Om te dink, ek het by amper al hierdie plekke by jou verby geloop! Die erns van Elsa Joubert, en die pret van Nadia-hulle het vir my die gees van die Woordfees lekker saamgevat.

  2. Ek voel beslis my gees is verryk en verruim deur die fees. Dalk moet ons volgende jaar ‘n bloggers ontmoeting reël … ek sal ‘n rooi angelier dra 🙂

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s