Ek is nie ‘n dapper muis nie. Inteendeel, ek is ‘n vrekbang muis. Ou Murphy is ook nogal woelig in my lewe – ek vermoed immer as dit kan, sál iets verkeerdgaan. Ek weet net nie wanneer en wat nie. Ek weet nie of dit in die gene of aangeleer is nie. Vermoedelik iets van albei. ‘n Familielid het onlangs gesê: “Ons klomp is mos vreeslike goeie mense, maar ons is nie besonder moedig nie.” Ek dink nie dis ‘n slegte opsomming van myself nie. Maar ek is bevrees my ou moeder het ook haar kant gebring om seker te maak die muis bly behoorlik skrikkerig. Sy het immers nie vermoed iets sal verkeerd gaan nie, sy het dit onwrikbaar gewéét. En konstant verwag. Maar ek is nie besig om myself te probeer verontskuldig nie. Dis net dat ek vermoed (nee, weet) dat heelwat geleenthede om hierdie rede deur die jare by my verbygegaan het. ‘n Plekkie in die skoolkonsert in sub A; die aanleer van speel in ‘n baie lekkerder posisie in netbal in die hoërskool; die aanknoop van baie vriendskappe en miskien selfs ‘n liefde of twee op universiteit; die laat vaar van ‘n loopbaan in die Sielkunde bloot omdat ek nie geglo het ek kan dit doen nie. Maar op ‘n paar plekke in my lewe het ek darem die sprong gewaag. En oorleef. Eintlik wonderlik oorleef. Die verbreking van ‘n lang verhouding met die verkeerde man; die keuse van Biblioteekkunde i.p.v. onderwys; die latere kursus in voorskoolse onderwys. En eindelik die sprong uit die onderwys na die skrywery. Waarvoor ek daagliks dankbaar is. Deesdae het ek te make met ‘n vreemde begeerte om dinge te doen wat ek tevore nog altyd agtertoe in my gedagtes gestoot het. Ek vermoed dit het iets met die middeljare te doen en moes my eintlik al op veertig oorval het. Maar aangesien ek besluit het ek gaan nooit middeljarig wees nie (dit klink darem te tussen die boom en die bas – te middelmatig, eentonig, te niks), moet dit iets anders wees. Dalk die vroeë aanvang van seniliteit? J Die afgelope jaar of wat het ek ‘n reis in ‘n tent sonder matrasse en verskeie hoë berge saam met drie woelige jongmense oorleef (hoewel net-net); nog ‘n staptog of twee saam met een besonder woelige jongmens; ek het verskeie skryfverwante goeters voor mense gepleeg sonder om weg te hol of flou te word, ek het my hand vol wonderlike Oosterse patroontjies laat teken; ek het lugballon gery en ‘n fast landing oorleef; ek het my hare oranje laat spuit vir kankernavorsing (en in ‘n propvol restaurant iets gaan drink daarna); ek het ‘n wonderlike kuier met kollegas wat ek nog nooit ontmoet het gehad. En natuurlik daardie epiese kuier in Leipzig met ‘n (wildvreemde) kollega uit Pole. Eergister het ek nuwe hoogtes in my waaghalsigheid bereik. J Ek het voor ‘n paar amper-vreemde kollegas vreesbevange op ‘n donker, diep rivier neergedaal in my tjoepie (deur die gawe skipper veilig met ‘n tou vasgemaak!). En die hoogtepunt was die trippie agter die boot aan in daai eintste tjoepie terwyl die voëls in die rietbos lawaai en die reën ongemerk van agter my rug aankom. Bliss, absolute bliss. As ek terugdink, besef ek ek het by elk van hierdie goed ‘n yslike klomp energie vermors deur vooraf te panic dat dit bars. En as ek baie mooi terugdink, begin wonder ek of die grootste vrees nie maar elke keer die vrees was vir wat die ander mense gaan sê nie. Die vrees dat ek nie in hulle oë sal slaag nie. Met ander woorde die baie menslike vrees vir verwerping. Dis nogal vir my ‘n verrassing, hierdie gevolgtrekking. Ek dag ewe salig ek is besig om gaandeweg minder besorg te raak oor wat die mense sal sê, meer my eie ding te doen. Nou blyk dit ‘n illusie te wees. Maar ek kan darem nie iets onthou wat ek die afgelope tyd nié gedoen het net omdat ek nie weet of ek dit kán doen nie. Dalk het ek tog die stadium bereik waar ek die vrees kan ervaar en selfs aanvaar – maar dan steeds die ding kan doen. Feel the fear and go throught it. Vir hierdie benoude muis geen grap nie. Maar beslis nie onmoontlik nie. Bucket list, hier kom ek!