Hierdie idee spook nou al ‘n geruime tyd by my. Gereelde lesers sal weet van my Dagboek van ‘n romanseskrywer. Ek kry die indruk dit word heel gereeld deur aspirant-skrywers geleees. Hopelik besef die lesers dis nie bedoel as ‘n wys hoe dinge gedoen moet word nie, maar as ‘n saamstap en leer uit mekaar se foute. As sulks kan dit vir die lesers én die skrywer van groot waarde wees.
Ek spook nou al ‘n jaar of wat om my behoefte om iets vir depressielyers te doen, te onderdruk … 🙂 Want ek weet regtig nie waar ek die tyd moet kry nie. Maar die gedagte wil my nie los nie. Ek sou bitter graag ‘n kursus rofweg wou skoei op alles wat ek uit verskillende bronne geleer het en dit vir groepies mense aanbied. Maar dit is ‘n hele nuwe loopbaan – ek het gedink en gedink en besef daar is nie ‘n manier waarop ek dit met my skryfwerk kan versoen en steeds my fokus op laasgenoemde kan behou nie. Verdere nadenke het my by die moontlikheid van ‘n aanlynkursus gebring. Maar twee maande van die jaar is verby – en ek weet steeds nie waar om met so-iets te begin nie.
Tyd vir noodmaatreëls – met doelwitte wat nie bereik word nie, wil ek nie sit nie. Want elke ding wat ‘n mens jouself voorneem om te doen en dan nié gedoen kry nie, trek jou ‘n entjie af in die modder …
Voorneme: Om een keer per week ‘n paragrafie/hoofstukkie/gedagte by hierdie dagboek-in-wording te voeg.
Kom ons kyk hoe dit gaan! (En ja, ek vermoed alreeds ek gaan meer leer as die lesers.)
Ek dink dis ‘n uitstekende gedagte om so ‘n dagboek van ‘n depressievegter te begin. Jy kan dit dalk selfs later uitgee. Dit sal ander depressievegters leer en inspireer, en sodoende help jy ook jouself. Ek dink juis die die van ‘n depressievegter( ipv lyer) is baie interessant en ‘n goeie wegspringplek. ( Ek geniet jou dagboek van ‘n romanskrywer baie, al het ek nog nooi ‘n roman geskryf nie- sou natuurlik gaag wou probeer, eendag….)
Was dit Jeanne Els wat eerste die woord “depressievegter” gebruik het? Inligting oor depressie is in aanvraag, ook praktiese raad oor hoe om dit te bekamp/ daarmee saam te leef/ dit te oorwin.
Dit klink wonderlik. So bly ek het die ontdek. Gaan gereeld hier lees.
Lekker om van julle te hoor! Netmooi die aanmoediging wat ek nodig het.
Ja, ek dink ek het die woord by Jeanne opgetel, hoewel ek nog nie haar boek gelees het nie. Het wel oor die radio ‘n onderhoud daaroor gehoor.
Yvette, my persoonlike ondervinding is dat daar medikasie en berading is wat ‘n mens beslis kan help, maar by die PRAKTIESE dinge is daar ‘n tekort. Ons kom maklik onder die indruk dat ons magteloos staan teenoor depressie, en nie self iets daarteen kan DOEN nie. Ek hoop om mettertyd dingetjies hieroor te deel, want dis waar die deurbraak vir my gekom het.
Ek is een van die aspirant-skrywers wat jou dagboek van ‘n romanseskrywer gelees het en glo my, jy kan maar beslis ‘wys hoe dinge gedoen moet word’ alhoewel jy dit nie so bedoel nie. Ons aspirant-skrywers leer geweldig baie daardeur en ek tel onskatbare tips op by julle ervare skrywers wat my help om my eerste romanse klaar te skryf.
Sterkte met jou dagboek van ‘n depressievegter. Sal dit beslis volg.