Burlesque is a literary, dramatic or musical work intended to cause laughter by caricaturing the manner or spirit of serious works, or by ludicrous treatment of their subjects. The word derives from the Italian burlesco, which itself derives from the Italian burla – a joke, ridicule or mockery. Aldus die wysheid van Wikipedia. Sien, ‘n mens kan altyd iets te lere kry!
Natuurlik weet ek van kindsbeen af van Cher. En van Christina feitlik niks. Genoeg om my – wat normaalweg nie rasend is oor musicals nie – fliek toe te dryf op ‘n vervelige, manlose Vrydagmiddag. Dit was ‘n wyse besluit.
Cher lyk soos ‘n dertigjarige met ‘n plastiekgesig. Christina lyk met verloop van die fliek soos enigiets vanaf ‘n onskuldige sestienjarige tot die grootste seksbom wat jy jou kan voorstel. Cher se formidabele stem is alombekend. Christina se stem – wat ‘n diamant kan laat kraak, ek sweer – het my in verstomming laat staar.
Die storie is yl, voorspelbaar en eintlik net ‘n verskoning vir baie dans- en singtonele – soos dit in ‘n musical hoort. Tot my verrassing (nadat ek per abuis op ‘n webwerf beland het wat al die SONDES in die fliek – van die getal f-woorde tot die getal sh-woorde – volledig opnoem – genoeg om enige sondaar nuuskierig te maak!) het ek nie die danstonele te eksplisiet gevind nie. Ook nie verveeld geraak nie, wat baie sê. Die warreling van volmaakte lywe, meer as volmaakte bosse hare, baie grimering, lekker musiek en heelwat humor kon my met my beperkte aandagspan moeiteloos vasgevang hou.
Die newekarakters was ‘n aangename verrassing. Die verhoudings tussen Cher en die mense rondom haar word kripties, maar eg-menslik geteken. Die gewone gay man met baie insig in die vroulike psige was ook daar, so ook die bitch-danseressie wat die nuwe wonderwerk probeer ondergrawe. En ‘n onmoontlike mooie kroegman cum klavierspeler met eyeliner … (Ek het wel maar langtyd gebyt aan die gay one night stand se morning after – too much info, soos die kinders sê.)
Iemand het die insig gehad om nie by die hele fliek vol suggestiewe danspassies nog ‘n eksplisiete sekstoneel of twee ook in te bring nie. (Dalk is dit vir ander kykers ‘n teleurstelling?!) En dit het ook nie al die eerste aand gebeur nie … aangename afwisseling. Daarby is die aanloop tot die aksie skreeusnaaks. Ek kon nie sien of sy rooi pajamapakkie wit wolkies of skapies op het nie, maar dit maak geen verskil nie. 🙂 Die man met die eyeliner het nie net ‘n sixpack en ‘n paar liederlike tattoos nie – hy kan toneelspeel ook.
As jy lus is vir pret – gaan kyk vir Burlesque. As jy lus is vir pitkos – gaan soek vir jou ‘n kunsfliek. Of grawe een van jou skooldae se Shakespeare’s uit die kelder.
As jy meer wil lees, gaan na http://www.imdb.com/title/tt1126591/