RSS

Lucas Maree: Aan almal wat reis en weggaan

25 Feb

Onderstaande pragtige stuk deur Lucas Maree het ek op Litnet raakgesien:
Al lê die berge …
Ons leef heeltemal te gulsig. Ons is bang ons kry nie alles gedoen nie, en ironies genoeg, kry ons selfs die goeters wat ons doen, nie gedoen nie. Nie heeltemal nie, want jy jaag so vinnig as wat jy kan om by die plekke te kom waar die eintlike goeters gebeur. Die goeters wat jou bankbestuurder laat glimlag.
Die tussenin plekke is leë plekke, en móét jy dan daardeur om by een van die belangrike plekke te kom, maak jy seker dat jy nie tyd daar vermors nie. Mens raak so gewoond aan hierdie houding dat jy naderhand selfs jou geesgoeters ook indeel in hierdie sogenaamde nutsgebiede.

Nou het ek nog ʼn ander aardigheid in my persoonlikheid ook. Wanneer ek na mooi goeters kyk, voel ek skuldig om die skoonheid te waardeer. Ek weet nie hoekom nie, maar ek vermoed dit is omdat ek meesal alleen ry, en wanneer ek dan die mooi goeters sien, dan skop die skuldgevoelens in omdat ek dit nie met die familie kan deel nie. Dis soos om vir jouself ʼn roomys te koop en dit skelm te eet, voor die kinders dit sien. Dalk is my probleem met skoonheid ook deel van die kosmiese Calvinis binne my, wat steeds moet glo dat lekkerte per definisie in die ryke van die Bose hoort …

Dan’s daar ook die ander dilemma van mooi goeters. Mens kan mos nie mooi oor ʼn foon aan iemand verduidelik nie. Mooi is ʼn ding van die hart, dis iets wat jy voel en voel ken mos nie woorde nie. Nou ignoreer ek maar die mooi dinge en ek jaag my gat af om van punt A tot by punt B te kom. Op hierdie manier het skoonheid in die tussenin-gebiede loop lê.

So gebeur dit dan ook dat ek een aand soos ʼn maniak deur die Karoo jaag, want praat ons nou van ʼn tussenin-gebied, dan is die Karoo mos in almal se boeke ʼn uitstekende voorbeeld van ʼn plek waar jy nie moet vertoef nie. Jy kry nie eens ʼn radiostasie daar opgevang om jou daaraan te herinner dat daar iets elders gebeur nie.

Nou sing ek maar vir myself sodat ek kan wakkerbly. Werk aan daai volksliedjies. Daai songs wat ek so graag vir die nuwe CD wil verander na ʼn meer verstaanbare, ʼn meer nou-se-soort-Afrikaans.

Al lê die berge nog so blou
Al lê die berge nog so blou
Al lê die berge nog so blou
Haar woorde sal ek steeds onthou

Daarom kies ek toe ook die nag om in te ry, want in die donker lyk die Karoo se vertes nie so ver nie. Daar is ook min kanse dat ʼn spietkop my spoed sal breek. Dan hoef mens mos vir niks te stop nie. Wel, byna niks.

Net so dertig kilo’s anderkant Drie Susters kry ek ʼn boodskap dat daar ʼn boom langs die pad is wat my persoonlike aandag nodig het, en ek hou geïrriteerd stil en klim uit die kar uit om te gaan piepie.

Toe die ergste van die nood verby is, kry ek kans om rond te kyk. Daar in die middel van niks en nêrens sien ek die mooiste gesig wat ek in my hele lewe nog ooit gesien het.

STERRE!

Net waar ek kyk sien ek sterre. Groenes, bloues, rooies en pienkes. Ek het in my lewe nooit geweet dat sterre verskillende kleure is nie. En hulle voel so naby dat mens amper aan hulle sou kon raak as jy jou hand sou uitsteek. Hierdie sterre is duidelik in ʼn ander liga as die vaal sterre van die stad.

Maar dié moet julle darm weet
Ja dié moet julle darm weet
Ja, dié moet julle darm weet …
Haar oë sal ek nooit vergeet nie

ʼn Jakkals tjank en sy klag spring van ster tot ster, al agter die Skepper se ore aan. Ek luister en wens ek kon myself ook so natuurlik en sonder hangups soos die jakkals uitdruk, en skielik kom hang die weemoed aan my skouers, swaar soos ʼn nat army-jas.

Here, hierdie is nie ʼn gevoel wat mens vir jouself kan hou nie. Jy moet dit deel anders gaan jy bars. Raai!!! Dat ʼn man se siel dan nou ook ʼn blaas moet hê! Ek kyk my oë nat na die sterre terwyl ek wonner oor allerhande goeters. Die simpelste vrae flits deur my gedagtes.

Hoekom gaan bêre die Here sy sterre saans op so ʼn plat verlate plek soos die Karoo?

Ek wonder of mannetjiesjakkalse ook moeiliker tjank as wyfies. Oor hulle ook grootsheid moet veins, soos ons wat kwansuis in die beheerkamer van die skepping staan.

Nou weet ek hoekom mens hierdie tussenin-plekke moet vermy, want jy kry daar ʼn ander jy raak gekyk, en hierdie jy is nie altyd so grênd as wat jy jouself wil wysmaak nie. Hier waar jy jou teen die Hemel se wydheid meet, het jy mense nodig om te help keer dat jy heeltemal leeg word en verdwyn. Of anders moet jy sing.

Of tjank, soos die jakkals.

Ek soek my Oerstem.

Hoe gaan ʼn mens dan weg met ʼn lekker hart?
Sê my, hoe gaan ʼn mens dan weg met ʼn lekker hart?
Hoe gaan ʼn mens dan weg met ʼn lekker hart?
Want groet en gaan loop saam met pyn en smart …

Ek dink aan al die mense wat ek liefhet. Dwarsoor die aardbol waar hulle mensegoeters doen. Ek sing. Saggies in die nag, want mens voel maar half simpel as jy so voor niks en niemand staan en sing vir mense wat nie daar is nie. As jy aanhou om simpel goeters te doen, voel dit later minder simpel. Nou sing ek al hoe harder, want dis al wat ek kan doen om te keer dat ek totaal hier in die kosmos verdwyn … Dit galm deur die nag en die jakkals van vaneffe is nou stil. Hy wonner seker oor my?

Al woon my Bokkie ook hoe ver
Al woon my bokkie ook hoe ver
Al woon my bokkie ook hoe ver …
Dan vind ek haar by die Môrester

Die punt is dat ons almal tog maar graag wil raak en geraak word. Dis die probleem van alleenheid. As niks of niemand jou raak nie, raak jy weg. Dalk moet ek my maar verbeel dat my familie vanaand ook na die sterre kyk.

Wie weet, daar was dalk ʼn kragonderbreking in Bloemfontein. Kragonderbrekings is omtrent al wat die kinders kan oortuig dat daar niks op die TV is nie. Dalk het hulle ook nie kerse nie en staan hulle op hierdie oomblik ook buite, oor hulle bang is vir die donker van die huis … Sê nou maar net …

En sê nou maar net hulle staan op hierdie oomblik en kyk ook vir die sterre, soos ek. En sê nou maar net hulle kyk op hierdie oomblik na presies dieselfde ster, as die een waarna ek nou kyk! Dan maak dit mos nie saak dat ons fisies so ver van mekaar af is nie, want ons is steeds naby mekaar oor ons na dieselfde goeters kyk.

Al lê die berge nog so blou
Al lê die berge nog so blou
Al lê die berge nog so blou
Daai vrou sal ek vir lank onthou …

Lucas Maree

 
4 Kommentaar

Posted by op 25/02/2011 in Skrywers, Spiritueel

 

Etikette: , , , ,

4 responses to “Lucas Maree: Aan almal wat reis en weggaan

  1. Madelie Human

    25/02/2011 at 10:47

    Wow! Lukas was ‘n dieper ou as wat baie mense gedink het. Ons was saam eerstejaars op universiteit al was hy ‘n paar jaar ouer as ek. Wat ek van hom onthou, is hoe sy vingers vir ons heerlike musiek uit sy twaalfsnaar ghitaar getower het.

     
  2. Anna

    25/02/2011 at 10:57

    Sjoe, maar dis mooi. Is daar nog van sy goed te lese op die Internet, want ek is sommer nou lus om sommer nou nog van hom te lees.

     
    • Marile Cloete

      25/02/2011 at 11:11

      Toe ek dit vanoggend soek, was hierdie stuk nie meer op Litnet se tuisblad nie. Ek het dit toe gekry deur net sy naam te Google. Dit lyk of hy gereeld op Litnet geskryf en by nogal heftige besprekings betrokke was.

       
  3. yvettedevilliers

    01/03/2011 at 12:38

    Uit die hart uit geskryf.

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: