Somersneeu – Helene de Kock

Helene de Kock is wat my betref een van die mees onderskatte skrywers van ontspanningsleesstof in SA. Sy skryf al vir jare stil-stil die een pragtige, geloofwaardige, eg Suid-Afrikaanse liefdesverhaal na die ander. Die meeste van hulle speel in die Oos-Vrystaat af en dikwels besoek die karakters ook vir Nederland (veral in die ouer boeke). Maar elke boek en elke karakter is steeds uniek.
Met die meer blootstelling wat goeie Afrikaanse ontspanningsleesstof deesdae kry, dink ek sy kry ook meer van die erkenning wat sy lankal moes gekry het. En sy is aan die woel, hoor. O.a. het sy Somersneeu voltooi vir haar meestersgraad in kreatiewe skryfkuns by Potch. Maar dis hier waar die snag vir my inkom. Somersneeu is meesterlik geskryf. Die karakters is geloofwaardig, die temas eg Suid-Afrikaans (o.a. gay-wees en Christen-wees, ook plaasmoorde), die milieu wonderlik geteken, die intrige interessant met ‘n heel onverwagse kinkel – maar die boek het nie vir my die bekoring van haar voriges nie.
In my poging om te verstaan hoekom nie, het ek uitgekom by die vraag of dit regtig regverdig is om ‘n akademiese kwalifikasie aan ‘n fiksie-werk te koppel, veral ‘n nie-letterkundige werk. Wat vir my verlore gegaan het in hierdie boek, is die emosie. En liefdesverhale (of verhoudingsverhale, soos sy haar boeke tereg noem) kan nie bestaan sonder emosie nie. Vir my voel dit of die emosie hier weggesny is om plek te maak vir ander dinge, dinge wat die teks in die rigting van die letterkunde probeer stuur. Wat my betref, is die storie hierdeur skade aangedoen. En die leser van ontspanningsleesstof soek ten eerste ‘n lekker storie.
Of miskien is dit maar net ‘n kwessie van suur druiwe omdat ekself te lui is om ‘n graad of twee aan te pak!! 🙂 (Sy is tans besig met haar doktorsgraad, sover ek weet).
Ek sal graag wil hoor wat ander lesers dink!

5 gedagtes oor “Somersneeu – Helene de Kock

  1. Hallo Marilé

    Net om te sê dat ek jou resensie oor my boek baie waardeer. En jy is vanselfsprekend op jou opinie geregtig. Ek wil net noem dat ander lesers weer dink daar is dalk te veel emosie. So wen mens eintlik nooit. Maar nou, ek het juis Somersneeu (vir my doktorsgraad waarmee ek steeds besig is) geskryf omdat die doktoraal spesifiek oor ontspanningsfiksie en die skep van ruimtelike dinamika daarin, gaan. Dis beslis nie geskryf om literêr te probeer wees nie. My promotors dink ook nie so nie. (Dieper water is geskryf -en dis ook ‘n ontspanningsroman – vir my MA waarvoor ek ‘n akademiese toekenning gekry het). Dis beslis nie net literêre werke wat akademiese studie verdien nie. Ek wil ook beslis nooit literêr skryf nie. Glo my, ek geniet ontspanningsromans te veel! Nee, daar is jy verkeerd, ek stel niks maar niks belang daarin om literêr te probeer skryf nie. Nou, ‘n ander interessante ding is dat daar maar ‘n baie dun skeidslyn tussen goeie gewilde prosa en letterkunde is. Dis weer ‘n ander onderwerp. Onthou net, ontspanningsverhale is bepaald NIE ‘n taboe onderwerp vir akademiese studie nie. Mens kan wonderlike studies daaruit haal. En persoonlik dink ek die hoofkarakter Rouke se emosionele worsteling op vele vlakke is juis die verhaal. Maar weer eens BAIE dankie dat jy die moeite gedoen het om oor Somersneeu te skryf. Ek waardeer dit werklik baie.
    O ja, en ek is nie besonder fluks en daarom studeer ek nie. Ek het met ‘n MA begin om (terapeuties) te help met die verwerking van die dood van ‘n kind. Toe byt die gogga my en ek gaan aan met my doktoraal. En ek dink geensins mense met grade skryf better as mense sonder grade nie. Allermins. Daai tipe snob is ek definitief nie.
    Baie groete en laat weer van jou hoor. Waarmee is jy tans besig?

    Helene

    1. Lekker om van jou te hoor, Helene!
      Dankie vir jou geduld met my poging! Gelukkig weet ons al ‘n mens kan nooit almal tevrede kry nie, né. (Ek sukkel nou nog soms daarmee – nie net op die gebied van skryf nie.) Hulle het nou net op rsg vir Kristel gevra of sy skryf met ‘n leser in gedagte en dit het my laat dink. Dit voel vir my ek skryf maar wat ek voel ek moet skryf – en hoop daar is darem êrens iemand wat daarvan hou.
      Ek moet erken ek het amper liewer nie oor Somersneeu (besondere titel!) geskryf nie, juis omdat ek geweet het jy sal dit waarskynlik sien. Maar ek skryf o.a. my resensies omdat ek graag mense wil aanmoedig om meer (Afrikaans) te lees en te dink oor wat hulle lees. En dan is dit nie juis sinvol as ek oor elke boek bloot ‘n lofsang sing nie. Ekself moes verlede jaar vir die eerste keer ‘n tamelik negatiewe resensie van ‘n leser op die internet verteer – deel van die leerproses!
      Vir die feitefoute oor watter boek vir watter graad is, vra ek om verskoning, hoor! Ek is bewus dat julle ‘n kosbare kind verloor het, en ek kan net sê ek bewonder jou dat jy daaruit kon opstaan en dinge aanpak en tot stand bring soos hierdie laaste twee boeke. Ek het heelwat van Dieper water op rsg gehoor, maar nog nie die boek in die hande gekry nie. Wat ek gehoor het, het my diep aangegryp.
      Dankie vir jou inloer en jou begrip. En baie sterkte vir die skryfwerk – ek hoop daar kom nog baie heerlikhede vir ons uit jou pen. (Daar is prentjies uit jou ouer stories wat steeds in my kop leef, al onthou ek nie meer die titels nie. Spesifiek ook Hollandse prentjies …)
      Groete!

  2. Dankie vir jou antwoord, Marilé! (Terloops, ek weet nou nie watter een is die skuilnaam nie? Is jy eintlik Alta?)

    Kyk, ek moes al baie regtige simpel resensies verduur ( of glad geen resensie nie!)en dit is joune geensins nie. Jy skryf goed en jy skryf goeie en redelike resensies. Jy probeer nie afkraak nie. Jy probeer bou. Dis ‘n feit. Maar, wat ek net voel is dat daar in die resensie nie ‘n duidelike onderskeid getref word tussen ‘n romanse (wat jy skryf en ek ook soms) en ‘n liefdesroman nie. Jy is heeltemal reg dat ‘n romanse emosie MOET hê. Dis wat ek soek as ek en miljoene ander vrouens romanses lees. En dis ‘n kuns om dit te skryf. ‘n Liefdesroman (Somersneeu) is weer ‘n perd van ‘n ander kleur. Daar is emosie nie so belangrik nie (alhoewel nie afwesig nie!) want die roman hanteer die werklikheid op ‘n heel ander manier. Dis nou akademies maar tog wel belangrik. Ek gaan daaroor ook praat by die Woordfees. Verstaan net mooi – dis werklik nie dat romanses en liefdesromans teenoor mekaar afgespeel word nie. Dit sou wees om appels met lemoene te vergelyk – en dis dom. Dus, die resensie moet by die genre pas. Nou wil ek jou aanmoedig om asseblief voort te gaan met jou resensies. Daar is min mense wat soveel moeite doen en ek dink dis fantasties.

    Dit sal ook goed wees as jy in jou resensies let op die skrywer se hantering van die karakteruitbeelding, ruimtelike uitbeelding (wat ontsaglik belangrik is!) , die handeling, ens. solank jy net voortgaan daarmee. Sterkte en sterkte ook met jou skryfwerk!

    Baie groete
    Helene

  3. Ek sien hier bo wat ek self ook dikwels beleef wanneer ek terugvoer kry oor my boeke. Die leser ervaar nie noodwendig dieselfde intensiteit van emosie as wat die skrywer beleef het toe sy die storie geskryf het nie. Jy as skrywer is diep betrokke by jou karakters en jou storie terwyl jy skryf (jy leef letterlik jou storie!) en die leser wat lees vir ontspanning of om ‘n resensie te skryf, beleef dit in ‘n mindere mate.

    Die teendeel is ook waar: Die leser is om die een of ander rede emosioneel wanneer sy lees en ervaar weer goeters waaroor die skrywer ligtelik gegaan het, baie meer intens as wat die skrywer dit bedoel het.

  4. Hierdie gesprek het ons nou lekker aan die dink gesit. (Ek hoop hier is ook stilswyende lesers wat dit so interessant en leersaam vind soos ek.)
    Selfs net die term “emosie” kan sekerlik deur verskillende persone verskillend geinterpreteer word. Wat vir een persoon emosioneel is, kan dalk vir ‘n ander soetsappig of stroperig wees, en andersom.
    Dit laat my ook dink oor die terme liefdesroman en verhoudingsroman. Dalk dink ‘n mens by eersgenoemde hoofsaaklik aan die liefde, terwyl dit by laasgenoemde oor ‘n veel wyer spektrum van emosies gaan.
    Ook die gesprek oor die verskille tussen die liefdesroman en die romanse is ‘n interessante een. (Diegene wat hierin belang stel, lees gerus op die Skrywerontwikkelingblog meer hieroor. Kyk langsaan op die Blogroll vir die adres.) Dalk is alle genre-verskille maar eintlik subjektiewe indelings (dis nou behalwe ooglopende verskille soos prosa teenoor poësie, byvoorbeeld).
    Wat ek wel weet, is dat my tydskrifverhale en romanses ‘n wonderlike leerskool was vir die liefdesroman, waarby ek eintlik wou uitkom. En dat ‘n mens NOOIT kan ophou leer nie. Want dit word nie makliker nie – dit word eerder moeiliker omdat ‘n mens voortdurend jou eie grense wil toets en wil verbeter.
    Die hele kwessie van skuilname (of skrywersname soos dit deesdae dikwels genoem word) is ook ‘n interessante onderwerp. Dit lyk my dit word deesdae algemeen gedoen soos ek dit doen, naamlik dat ‘n skrywer verskillende name gebruik vir verskillende genres en dat dit glad geen geheim is nie. So verskyn my ligter tydskrifstories en my romanses dan onder die skrywersnaam Marilé, terwyl die ernstiger tydskrifverhale en die LR’s onder my eie naam (Alta) verskyn.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s