RSS

‘n Vuur vir Fanus: want hy is my pa

11 Feb

Van Litnet – deur Gerrit Rautenbach.

Dis Oukersaand 2010 en ek het hom by Arcadia gaan haal. Sy blyplek die afgelope paar jaar. Moet dit asseblief tog net nie ’n ouetehuis noem nie, sal hy vir jou vertel. Dis óf ’n koshuis óf ’n oudehof. Ouetehuis is ’n term van depressiwiteit. Neerslagtige onskeppendheid.

Ons sit buite by die vuur waar ons al baie gesit het van kleintyd af. Baie vure op baie plekke. Daar was die agtertuin in Northcliff vir Saterdag en Sondag se braai. Dan het hy altyd so een ekstradun karootjoppie eenkant gehou en as die vleis in die blink bak wag vir die res van die kos, sit hy daai tjoppie terug op die vuur. “Die braaierbonus” het hy dit genoem en met my gedeel. Ek het altyd gewonder hoekom my vingers brand en syne nie.

Daar was die kasplankvuurtjies agter die duiwehok waar ek en broer Frans vakansiedae ons eie ding gedoen het. Partykeer het hy daar aangekom met ’n pan en ’n halfdosyn eiers. Of ’n blik boelie en boontjies vir koeiseunkos. Met ’n dik woltrui aan en arms wat altyd reg gestaan het om ons vas te druk.

Daar was Modderfontein, ons eie persoonlike hemeltjie in die berge net so duskant Rustenburg. Grootwordtyd se jare amper elke naweek soontoe. Ek onthou nog, in die aande as ek gaan slaap, was ek vasberade om dié keer voor hom op te staan. Maar as ek wakker word in die halfdonker van ’n nuwe dag, sien ek hom al by die vuur sit. Dieselfde ou woltrui aan en vlamme wat sy wange laat glinster. Hy staan so vieruur op, maak vuur, maak koffie en skuif sy stoel reg sonder om iemand wakker te maak. En dan wag hy vir die dag en hy sit daar en skryf gedagtes neer agter op sy Van Rijn-dertigs. Hy kon nie Frans praat nie, hy kon nie musiek lees nie, maar een van daai baie dae het hy “Moenie weggaan nie”geskryf:

Ek vertel ’n verhaal
van ’n koning se nood
hy sterf van sy liefde
want weggaan is dood …
moenie weggaan nie.

Daar was die Krugerwildtuin. Elke oggend net voor sonop is ons saam vuur toe. Dan maak ons koffie met kookwater uit die groot ou, swart ketel met die mama-gesig ingegiet en hy krap hardekooltjies eenkant toe, sit die pap op, en as daai pot reg sis, ry ons uit nes die hek oopmaak. Koffie in die hand lewer hy kommentaar.

“Dis ’n luiperdlopie,” fluister hy as ons deur ’n drif kruip. “Hulle is hier, ons sien hulle net nie.” Ek glo hom, want hy is my pa.

“Soek die leeus,” werk hy ons op. En ons soek. Hier moet leeus wees. Want hy sê so. En hy is my pa.

Daar was Buffelsbaai. Elke keer as oom Appels (sy van was Peroldt, toe noem my pa hom sommer Appels) se boot inkom, kry ons ’n vis. Daar het hy my geleer vis krap en skoonmaak. Dan maak ons weer vuur en braai kabeljou. Een aand het ons vir die kole gewag en die son het aan die westekant oor Meidebaai begin sak en vir ’n tyd lank soos ’n bal op die horison bly hang. Hy het lank gesit en kyk, toe ’n sluk van sy dop-en-dam gevat, sy pakkie Van Rijn-dertigs nader getrek en agterop geskryf:

Die son het in die see geval
Op die horison se lem
Dit het hom in twee gesny
Ek hoop die son kan swem.

Vanaand sit ons weer om ’n vuur. Dis Oukersaand 2010 en hy het gesê hy is lus vir vis en ek braai geelstert. Want hy is my pa. Hy is 82 in kalenderjare, maar 150 in leefjare. Sy erfenis is groot. Sy ou lyfie het klein geword, maar sy brein is steeds vlymskerp. Ons praat oor al die jare. Oor al die mense. Oor tant San van Christiana. Engeltjie, Kooivlooi, Leon Sjjjj, Simon van de Wildt, Zack, oom Hoefie, Piet Groen, die Van der Walts, Bothas, Casper Squire. En natuurlik oor Koos Meyer.

“Ek wil nog die boek oor Koos Meyer skryf,” sê hy dan.

“Daar ís al ’n boek geskryf,” antwoord ek.

“’n Boek, miskien ja, maar ek wil dié boek skryf. Niemand ken hom soos ek nie. Toe ek net begin uitsaai en konserte doen het, moes ek op ’n dag in 1961 Bloemfontein toe vir ’n konsert. Onbeplan het Jim Reeves op dieselfde dag, min of meer dieselfde tyd, daar aangekom. Ek op platform 3 en Jim op 4. Toe my trein daar stop, staan Koos en sy gevolg daar met ’n groot banier wat lees: ‘Vergeet van Jim. Welkom Fanus!’ Dis waar dit alles begin het …

So 35 jaar later hou Fanus en Koos vir oulaas weer ’n konsert. Amper soos ou boksers wat weet hulle is nog wêreldkampioene, klim hulle terug in die kryt. Die konsert is ’n moerse sukses. Soos altyd. Soos hul gewoonte was, vat hulle toe maar ’n ietsie saam met die manne na die tyd. Soos die gewoonte was, word die ietsie ’n hele paar ietsies en Fanus en Koos is so drie-uur daar weg rondawel toe. Soos broers slaap hulle saam. Wel nie saam nie, net saam in dieselfde plek.

Soos gewoonlik verdwaal hulle op pad huis toe. Naderhand, op soek na die ware weg, is Koos kuitdiep in ’n visdam en haal paddas uit, wys hulle vir Fanus en lê stambome uit. Soos die gewoonte maar was, sak hulle neer op die wal van die visdam, kyk gelate vir die sterre, knak die Oude Meester-padkospakkie se nek en vat ’n ietsie vir die langpad.

Skielik begin Koos huil. Uit die bloute. Huil soos in regtig huil. ’n Kind se huil. Sonder dronkverdriet. Koos was te geoefen vir dronkverdriet.

“Wat nou?” wil Fanus by hom weet.

“Nee,” reken Koos, “ek weet ek het nie meer baie tyd oor op aarde nie. My dae word getel. En nou raak ek bang vir al die stront wat ek aangejaag het. Ek gaan gestraf word. Hel toe.”

Fanus het ’n tydjie gedink oor dié bekentenis; nog so sluk inspirasie by die Oude Meester gevat. Toe geantwoord: “Koos, dink jy die Here het ’n humorsin?”

Koos het op sy beurt die Oude Meester geteug. Gesluk, sy trane gesluk en toe sy kop geknik. “Ja wel, tog seker, ja.”

“Welkom in die hemel, Koos …”

“Ou Fanna, jy kon nog altyd ’n ding so reg sê. Kô’s loop slaap.”

Kort daarna is Koos toe opgeroep vir hoër dienste.

“Hulle kap nou in ons bos,” het my pa gesê, maar self sterk bly staan vir nog ’n paar jare soos ’n hardegat hardekool. Tog, kort na ons Kersfeesbraai het daai hardekool begin kantel. Net toe hy besluit het om Koos se ware storie te skryf.

Ek was die laaste dag by hom in die hospitaal. Ek wou braaivleisvuur aan hom ruik, maar daar was net hospitaal in die lug. Hy was nie eintlik meer by nie. Hy was waar hy nie hoort nie. Hy het daar gelê soos ’n fetus kromgetrek in ’n vraagteken. Skielik het sy moeë oë oopgegaan, hy het my hand gevat en iets begin sê. Ek het oorgebuk, fyn geluister. Eers was ek glad nie seker oor wat hy gesê het nie. Tog, hoe langer ek dink, hoe sekerder raak ek ek het hom reg gehoor: “Kommer nie, ek gaan net op na Koos toe. Net om seker te maak ek het al sy stories heeltemal reg vir die boek.”

Mense brand gewoonlik ’n kers vir iemand om hulle te help op hul pad. Vir hom steek ek elke keer ’n vuur aan. Want hy is my pa.

Gelewer by die gedenkdienste van Fanus Rautenbach.

 

http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=98658&cat_id=293

 
 

Etikette: , ,

2 responses to “‘n Vuur vir Fanus: want hy is my pa

  1. seegogga

    11/02/2011 at 20:54

    Dit was aangrypend. Ek is van kinsbeen af ‘n Fanus Fan. Daar was net een soos hy.

     
  2. Una

    12/02/2011 at 08:22

    Wat ‘n nalatenskap!

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: