RSS

‘n Lewe sonder diere? Nooit!

30 Jan

‘n Lewe sonder troeteldiere is vir my ondenkbaar. Hulle voeg soveel waarde tot ‘n mens se lewe toe dat die moeite en koste en verantwoordelikheid van versorging vir my nog altyd deur en deur die moeite werd was. En deesdae is daar al groter wordende begrip vir die ongelooflike positiewe rol wat (troetel)diere kan speel in die lewe van mense met spesiale behoeftes, synde dit kinders met gestremdhede, bejaardes of siekes.

Die heel eerste troeteldiere wat ek onthou, is die skaaphonde (Border Collies en ‘n Kelpie) op die plaas. En ‘n gemmerkat met ‘n stomp stert wat ek uit die stoor huis toe gelok het. Maar hulle was nie werklik troeteldiere nie, meer werkers op die plaas. Dit het moontlik meegewerk aan my blywende gevoel dat diere nie in die eerste plek daar is om GETROETEL te word nie, maar om ‘n rol te vervul. Hoewel ek ontsettend lief is vir my diere, bly hulle vir my diere. Ek probeer om nie menslike emosies en eienskappe aan hulle toe te ken nie, en ek probeer in gedagte hou dat diere se lewensverwagting laer is as dié van mense – afskeid is dus onvermydelik. Wat dit ‘n uitstekende oefening vir die liefde maak – wees bereid om liefde te gee en te ontvang, al weet jy êrens in die toekoms gaan daar seerkry ook wees.

Deur meer as drie dekades as volwassene het ‘n indrukwekkende verskeidenheid diere al my lewe verryk. Oor elkeen is daar staaltjies en herinneringe wat voortleef in ons gesin. Die eerste budjiepaar wat in ‘n koutjie in ‘n skoendoos gebroei het. Die langtermyn budjieboerdery, in die groot hokke en in die buitekamer met hokke self saamgeflans uit ou rakke. Die aanleer van die kuns van handgrootmaak van papegaaie. Die mak lovebird wie se voetjie Ouboet per ongeluk raakgetrap en toe self perfek gespalk het. Donsie en Koerie, die yslike slaghoender (wat ‘n pragtige liggroen gekleurde kuiken was) en groot, wit eend wat so graag katkos uit die blikkie geëet het. Vele hanslammers, etlike ander kuikentjies wat dagoud gekoop, grootgemaak en dan plaas toe gestuur is. Kattie I, die wonderlikste Siamese kat wat uit die straat by ons aangekom en vir meer as sestien jaar deel van ons lewens was. Kattie II, wat verwilderd uit die Karoo aangekom het, en ‘n tragiese einde gehad het. En tussenin Sunnyside Sashan Star, netso fynbesnaard soos sy naam impliseer, wat aanhou mors het in die huis van ‘n swanger en baie naar eienaar. Later Kwêkie en Kwakie, die onvergeetlike Hollandse kwakereendjies wat vir etlike jare elke jaar ‘n broeisel kleintjies hier grootgemaak het en vir die eiers vir Ouboet se verjaardagkoek gesorg het. Kwakie wat graag krieke uit jou hand kom neem het en rustig sit en broei en vreet het terwyl die kinders ‘n Sterinappi emmertjie vol slakke vir haar bedien. Die paar reënbooglorikiete, reënboogbont, hondmak en vroetelend met hul borseltongetjies vir lekkernytjies soos Pronutro, dik vla of jogurt. Voëlie, die weggooibudjie wat geweier het om stil-stil van honger te sterf en nou nog saam met Pa werk toe gaan in die week en naweke huis toe kom in ‘n bruin kardoesie van die troeteldierwinkel af. ‘n Hele verskeidenheid konyne, wat begin het by Hasie, van die bure afkomstig en geliefd onder die buurt se kinders. En Alice, die Kaliforniese konyn met die donker punte soos ‘n Siamese kat. Daarna Tesse en Monty, die opregte Hollandse miniatuurkonyne en hul nageslag en opvolgers. En die hartseer afskeid wanneer hulle teen ongeveer vyf jaar totsiens moet sê.
En deesdae Hilde, die eerste hond op hierdie erf. Yslike Duitse herdershond met ‘n hartjie netso klein soos haar ounooi s’n.
Dalk moet ek ‘n boek skryf. Want elke diertjie het ‘n lewensfase verteenwoordig. My life with animals … Hoe sê ‘n mens dit in lekker Afrikaans?
NS. O gaats, ek het die visse heeltemal vergeet …

 

Etikette: , , , , , , , , , , , ,

One response to “‘n Lewe sonder diere? Nooit!

  1. Ena

    30/01/2011 at 20:07

    Dis pragtig. Daar loop wraggies bloed tussen ons. Aarlangs EN met die nefie saam. Ek is deur net so ‘n versameling diere. Kleintyd selfs ‘n mak dassie wat snags op my bors onder die komberse geslaap het en dan moes ek soggens die evidence self skoonmaak. My huidige twee Kwakers se name is Kwek en Kwak. Tomba (my swart dogtertjie, kruis tussen Lassie en Labrador of Skaaphond) sorg vir haar eie ontbyt, so ek weet nie of Kwek ooit kleintjies uitgebroei sal kan kry nie. Maar die tweetjies stap gereeld by my voordeur in, kry hul eie ontbyt uit Tomba se kosbak en los die dankiesêkaartjies net daar …

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: