Die een resensent sê die ongelooflike chemistry tussen Angelina Jolie en Johnny Depp maak die fliek iets besonders – die volgende sê daar is absoluut geen chemistry nie … Wel, dan maar liewer ‘n paar diep gedagtes van my kant af:
Jolie het regtig ‘n paar ongelooflike lippe. En ek bedoel dit nie heeltemal as ‘n kompliment nie.
Depp lyk beter in seerowerklere as in flenniepajamas. Maar met sy vermoë om kaalvoet en deur die slaap oor die rooi teëldakke van Venisië te hardloop, skort daar niks.
Ek het nog min vroue met sulke hoë hakke so bestudeerd sien stap deur soveel Europese strate … of so koeltjies met motorbote deur Venesië se kanale sien jaag. Tussen koeëls en misverstande en die polisie én die skurke deur.
En Venesië is onbeskryflik mooi. Maak nie saak of dit oggend of aand of dagbreek of sononder is nie, maak nie saak wie van die held en heldin, die polisie of die skurke mekaar op daardie stadium met motorbote rondjaag of vir mekaar snipers op dakke opstel nie.
Ten slotte: Ek hou nie van moord nie. Nie as ek dit verwag nie en ook nie as dit sommer so terloops midde-in ‘n redelik bloedlose storie gepleeg word en niemand trek eintlik ‘n spiertjie nie. (Toegegee, die ander skurke sou ook die ewigheid in gewees het as hulle daai spiertjie getrek het!)
Lees gerus hier vir meer objektiewe menings: http://www.imdb.com/title/tt1243957/
Ek het gedink die “cinematography” is verskriklik mooi vir ‘n film wat eintlik seker ‘n aksiefliek moet wees. En Angelina se uitrustings. 🙂
Ek en my sussie het die fliek gaan kyk. Dit was nie sleg nie, maar dit was ook nie briljant nie. Ek het die einde se draai geniet, alhoewel dit seker ‘n bietjie voorspellend was, maar Venesie bly maar mooi!
Ek is baie lui om te konsentreer met sulke stories, so die kinkel aan die einde het my nogal verras!