Terugblik … en verbasing

Hoe meer ek probeer om sistematies terug te dink, hoe meer besef ek wat ‘n ongelooflike jaar 2010 vir my was. So ongelooflik dat ek nou skrikkerig is vir 2011! Want beter kan dit amper nie … 🙂
Ek kon sonder veel moeite agtien positiewe dinge van 2010 neerskryf (OK, tik!). En ek het nie eens my volgehoue verwondering en blydskap oor die geslaagdheid van die sokker bygesit nie! Dis egter nommer 19 wat vir my die verrassing was. En die wonderlike kersie op die koek: Ek kan nie onthou dat ek in 2010 ooit regtig depro was nie. Down, ja. Bedonnerd, ja. Vol selftwyfel, ja. Eensaam – soms. Maar nooit lank genoeg of intens genoeg om oor te gaan in ‘n volbloed depressie nie. Ek dink dis die eerste keer in meer as twintig jaar dat ek dit kan sê.
Hoekom? Omdat ek op nuwe pille is? Nee, hoegenaamd nie. (Maar pille is uiters belangrik vir die behandeling van depressie – dit kan die persoon oplig uit die donke put sodat hy weer die lig kan sien en krag kan bymekaarskraap om te begin veg). Omdat my gebede verhoor is? Nee, ongelukkig nie.
Ek dink bloot omdat ek hierdie jaar bewustelik van ‘n depressielyer verander het in ‘n depressievegter. Wat direk te doen het met die aanlyn depressiekursus wat ek in 2008 gedoen het. (Sien die kategorie Beveg depressie!) Ja, ek het darem deur die jare sporadies terugggeveg en telkens weer opgestaan, anders sou ek dit waarskynlik nie oorleef het nie. Maar die kursus, in kombinasie met die life coaching kursus wat ek vanjaar voltooi het, het my die vaardighede gegee om meer sistematies en doelgerig terug te veg. En dis wat die verskil gemaak het.
Die beginsel is eenvoudig, hoewel dit ‘n lang pad is om tot daar te kom: Vind uit watter dinge vir JOU nodig is om ‘n dag suksesvol te maak en sorg dat jy (sover menslik moontlik) daardie dinge in jou dag inbou. (Ek hoop om die tien beginsels wat vir my persoonlik geld, later hier te post.)
Voorlopig volstaan ek net met die drie goed wat voor in my kop is: Om goed te voel, moet ek skryf, bevredigende (nie bloot oppervlakkige) kontak met mense hê, reg eet en oefening kry. So eenvoudig. As ek vir ‘n paar dae verskeie van daardie dinge nie in my lewe het nie, begin ek afgly put se kant toe. En daar is seker nie iets op aarde waarvoor ek so bang is as daardie put nie! (OK, miskien vir valstande kry …)
Maar nou weet ek ‘n mens hoef nie paniekerig en krampagtig teen die put se wande te grawe en vastrapplek te soek nie. Nee, nou kan jy (op voorwaarde dat ek betyds begin, voor die modder oor jou kop toevou!) bestekopname doen en op redelike wyse kyk waar is die probleem en begin om klein verstellings in jou lewe te maak.
Hierdie eenvoudige beginsel stel ‘n mens in staat om as jy sleg/aaklig/moedeloos/nutteloos/down voel, te gaan sit en te kyk waar is ‘n leemte in jou lewe (sien ook my posts oor basiese menslike behoeftes) en dan iets daaraan te doen. En siedaar – jy het verander van ‘n slagoffer na iemand wat beheer het. Jy’s nie meer hulpeloos nie – jy het (‘n sekere mate van) mag.
Natuurlik het ons nooit volle beheer oor ons lewens nie. Natuurlik kan die behoefte aan mag ‘n vreeslike ding wees. Maar ek dink darem nie ek het sterk neigings tot diktatorskap nie (hoewel sommige lede van my gesin seker sal verskil!), dus sien ek nie SA se geliefde noordelike buurman as rolmodel nie – ek is heeltemal tevrede met die bietjie mag wat ek oor my eie donker kant gekry het.
My grootste voorneme vir 2011? Doodeenvoudig om op hierdie pad voort te gaan. En om meer daarvan op die blog te deel in die hoop dat dit êrens vir ‘n wanhopige persoon ‘n skrefie lig kan wees wat helder val tot onder in die put. En waaraan daardie persoon homself kan begin optrek.

2 gedagtes oor “Terugblik … en verbasing

  1. Watter waardevolle inligting! Ek is seker baie mense sal baatvind by hierdie kopskuif van lyer na bevegter! ‘n Mooi voorspoedige en positiewe jaar vir jou!

  2. Dis ‘n wonderlike terugblik. Hoop ek kan dit ook eendag (binnekort) sê. Gly nog terug, maar kan letterlik voel hoe die pille ‘n mens terughou van heeltemal insink.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s