Dis weer eens ek en die kwessie van verganklikheid. Veral die verganklikheid van ouer mense wat bloed van my bloed is. Want ja, dit word net meer en meer werklik vir my.
Jare gelede het Alba Bouwer ‘n roman gepubliseer met die besondere titel Die afdraand van die dag is kil. Dit was die aangrypende verhaal van die laaste gedeelte van twee vroue se lewe, die proses van afskaal, die trek ouetehuis toe, die moeilike aanpassing. En uiteindelik die dood.
Dis nie die eerste keer dat ek iemand sien agteruit gaan nie. Dit sal seker ook nie die laaste keer wees nie.
Maar ai, moet dit dan altyd so pynlik wees?