Ingrid vander Veken is ‘n Nederlandse joernalis en skrywer van kinderboeke, drama en volwasse fiksie. Papawers is pragtig vertaal deur Christine Barhuizen le Roux, skrywer van o.a. Padmaker.
Papawers vertel die aangrypende verhaal van die verhouding van ‘n ma met haar stiefseun wat aan skisofrenie ly. Sy begin ‘n gesprek met hom in die hoop om hom en sy siekte te leer begryp, maar haar konfrontasie met die skimme in die seun se kop bring meer vrae as antwoorde. Uiteindelik verloor hy beheer en dobber hy al verder weg, terwyl sy twee ouerpare magteloos toekyk. Haar persoonlike en poëtiese relaas van dié tragiese reis verbreek die stilswye wat die samelewing lyers aan skisofrenie oplê. Dit is ‘n ontroerende verhaal wat inlig en meesleur, en die kompleksiteit van hierdie ongesteldheid kom in al sy verskriklikheid uit die verf.
Antjie Krog sê die volgende van die boek: Wie nog nie die pragtige opregte stem van Ingrid vander Veken beleef het nie, verbeur iets wonderliks. Ek ken geen ander skrywer in watter taal ook al met so ‘n oorrompelende empatiese stem nie. Dis ‘n onvergeetlike boek – jare nadat ek dit in ‘n vreemde woonstel in Antwerpen gelees het, staan alles nog glashelder voor my.
Dit was inderdaad vir my ‘n onvergeetlike boek. En ‘n welkome nuweling in my spesiale versameling van boeke wat ek nie wil afstaan nie, al neem hulle stadig maar seker al hoe meer plek in my klerekas in beslag. Normaalweg is ek baie versigtig vir vertalings. Dis eenvoudig so dat vertaalde werke vir my dikwels nie glad en vlot in Afrikaans lees nie. Maar hierdie een wérk vir my. Dit laat my ook besef ek moet maar vir Padmaker ook in die hande kry.
Die boek sal enige ma se hart diep raak, te meer omdat hy nie eens die skrywer se eie seun was nie. Die magteloosheid van die ouers, die gebreke in die mediese en maatskaplike stelsel (ja, ook in Europa gaan dinge nie altyd soos ‘n mens dit graag wil hê nie!), die lyding van skisofrene en hul gesinne, die onbegrip van die gemeenskap, die lewe in ‘n inrigting – dit alles en nog meer word helder vir die leser gebring. Maar dis nie ‘n neerdrukkende relaas nie, daarvoor sorg die empatiese stem waarvan Krog praat. Die boek laat jou met groot dankbaarheid na jou eie lewe vol nietige probleempies kyk … en veral na jou eie kinders, foute en al.
Maar op die ou end is dit die krag van ‘n ma (en selfs ‘n stiefma) se liefde wat hieruit die hardste met my gepraat het. Dis wat ek sal saamdra vorentoe.
Dankie – nog een vir my lysie 🙂