Why would a man who loved his wife – so much that in the quarter century since her death, he hasn’t found someone to take her place – why wouldn’t he have a record of the life he’d had with her, of the baby they’ve made?
Ek het nagtelike ure omgelees aan hierdie boek tot my oë nie meer wou reguit kyk nie. Kon eenvoudig nie ophou nie. Jare gelede (lank voor die fliek dit kom bederf het) het My sister’s keeper my ook so vasgegryp. Tussenin kon ek aan ‘n hele paar van haar boeke nie lekker vat kry nie. Net te hartseer om te verduur. Ek mis ook die gebrek aan humor in haar werk.
Maar hierdie een … Mense – ‘n kragtoer. Genoeg om my van minderwaardigheid onder die mat te laat inkruip. Die mooiste metafore, die lieflikste Engels, wonderlike natuurbeskrywings, ongelooflike karakterisering van ‘n hele klomp mense, baie subtiele humor, ‘n hele klomp groot temas wat aangespreek word …
Ek sien hy het al in 2005 verskyn, so dis glad nie nuut nie. Dis ‘n boeiende storie waarin die karakters oor groot vrae besin, maar altyd op ‘n manier wat relevant is vir die verhaal. Soos of reg en verkeerd absolute waardes is, of leuens soms geregverdig is as die doel is om iemand pyn te spaar, of romantiese liefde, liefde tussen ouer en kind en liefde tussen vriende dalk maar net verskillende kante van dieselfde munt is, hoeveel kinders van hul heel kleintyd kan onthou en hoe akkuraat en eg sulke herinneringe is as dit deur prikkels (bv. terapie) geaktiveer word, jeugvriendskappe. En natuurlik alkoholisme – dit speel ‘n baie groot rol.
Dis nou behalwe al die inligting oor verskillende streke in Amerika (New Hampshire teenoor Arizona), die sterk Spaans-Amerikaanse en Mexikaanse invloed, die leefwyse en probleme en legendes van die Indiane.
Maar wat ek veral sal onthou, is die detail (en absoluut oortuigende) beeld van die lewe in die tronk – die dwelms, die bendes, die geweld, die eensaamheid, die vrees van ‘n opgevoede en ordentlike man wat tussen gewoontemisdadigers beland, die menslikheid wat hy in hulle herken … Ek weet nie hoe die vrou dit gedoen het nie. Dit lyk na jare en jare se navorsing – nee, eintlik lyk dit of sy jare binne moes gewees het om so oortuigend daaroor te kan skryf.
Die boek word ook geskryf uit ‘n hele klomp karakters se perspektief, en soms as ‘n gesprek van die karakter met Delia, die sentrale karakter. Iets wat ek uit ondervinding weet nie in elke skrywer se broek sit nie!
En dan is daar natuurlik Greta, die bloedhond wat vermiste mense opspoor. En die towerkunsies wat Delia se pa beoefen om die bejaardes by sy sentrum te vermaak. Maar wat onlosmaaklik deel vorm van die sentrale tema van die boek, naamlik die verdwyning van mense.
Dus: ‘n Boek wat ek sal onthou! En een van die min wat ek woord vir woord vir woord gelees het (en die detail is verstommend), want ek is ‘n haastige leser wat nie tyd mors op iets wat my nie regtig boei nie. (OK, ek het by die lang, lang legendes hier en daar ‘n ou paragrafie oorgeslaan, maar dis rêrig al!)