Almal wat my goed ken, weet ek is mal oor Eleanor Baker se boeke. En dat Weerkaatsings my absolute gunsteling is – een van daardie boeke wat ek elke paar jaar nog ‘n keer herlees. En dit bly steeds onverstaanbaar hoekom so ‘n talentvolle skrywer so vroeg moes sterf.
Verbeelde werklikheid is een van haar latere boeke en ‘n boeiende ineenstrengeling van die hoofkarakter (‘n skrywer van liefdesverhale) se eie storie en dié van die hoofkarakters in haar boek. Baker se gewone sober skryfstyl en subtiele humor is daar; haar gewone realisme gemeng met die broodnodige romantiek wat die lewe leefbaar maak. Die liefdesverhaal is roerend mooi, en die sloer van ‘n lankgetroude lewe word met pynlike realisme daarteenoor geteken. En albei vroue kom sterker anderkant uit.
Na al die jare bly die voorblad egter vir my verskriklik lelik en ek kry nie die dieper betekenis daarvan raakgesien nie. Ek is seker daar is ‘n storie agter die storie, want die skilder het dieselfde van as die hoofkarakter (en dus haar oorlede man, wat nie ‘n mooi karakter is nie …)
As jy een van die mense is wat graag weer wil Afrikaans lees, maar nie so lekker weet waar om te begin nie – beproef gerus hierdie boek.