Ek het die afgelope tyd eers regtig bewus geraak van Nicholas Sparks se boeke en eerste The lucky one en The rescue onder oë gehad. Ek het wel al die films van Message in a bottle en Nights in Rodanthe (spelling?!) gesien. Eersgenoemde het my lelik verneuk laat voel toe die held aan die einde moet sneuwel. Net ‘n baie wrede skrywer doen dit aan sy lesers! Laasgenoemde het ek gekyk omdat ek ‘n Richard Gere bewonderaar is, maar het dit nie ‘n besondere fliek gevind nie.
Dear John was dus ‘n poging om my kennis van Sparks se werk uit te brei. Ek het regtig baie van die fliek gehou, ten spyte van die swakkerige resensies wat dit gekry het. Dalk omdat ek (laaaank gelede) ondervinding het daarvan om jou geliefde army toe te stuur. En dus baie goed weet wat ‘n dear johnny nou eintlik is. Dalk ook omdat in The lucky one die held ook in Irak geveg het en ek vir die eerste keer fiksie oor daardie oorlog gelees het. En natuurlik aangehelp deur Springsteen se fantastiese liedjie Devils and dust, wat die helder prentjie teken van ‘n soldaat wat eintlik nog ‘n kind is, maar die keuse moet maak van maak dood of jy word doodgemaak.
Die manlike hoofspeler het vir my goed gedoen en die meisietjie is so pragtig dat ek haar heelwat sal vergewe! Die uitbeelding van die seuntjie met ‘n tipe leergestremdheid (is nie seker wat nie – daarvoor sal die boek sekerlik sorg) het my ook aangeraak. En ek wonder of Sparks so ‘n kind in sy lewe het, want daar is in meer van sy boeke (The lucky one) kinders wat ‘n probleem het om in die hoofstroom te funksioneer. Die pynlike verhouding tussen hom en sy pa – en hulle groot liefde vir mekaar – het my ook diep geraak.
As jy dus lus is vir ‘n mooooi liefdesverhaal met mooi mense en heelwat realisme, maar nie te veel oorlogstonele nie, gaan kry gerus vir Dear John.
En lees meer oor die fliek by hierdie skakel: http://www.imdb.com/title/tt0989757/
En ja, ek dink ek sal voortaan sorg dat ek eers die fliek sien en dan die boek lees – nooit weer andersom nie! Dit lei eenvoudig net tot te veel teleurstelling en frustrasie.
Ek dreig na al hoe lank om die fliek te kyk, maar ek kom nie regtig daarby uit nie. ek het meeste van Nicholis Sparks se fliekboeke gekyk, en jy’s reg, as ‘n kyker/leser voel mens darem verskiklik gekul met die feit dat een van die hoofkarakters doodgaan.
Alhoewel – mens kan hom dit vergewe in The Notebook.