Natuurlik moet kenners na ‘n skrywer se werk kyk voor dit gepubliseer word. Krities daarna kyk. Dis eintlik ‘n groot voorreg om iemand te he wat tyd en aandag aan jou pogings bestee, veral as jy nog totaal onbekend is.
Maar ai, dis nie lekker om daardie kritiek te ontvang nie. ‘n Mens se woorde is vir jou heilig (veral aan die begin van jou loopbaan), hulle kom uit die heel diepste dieptes van jou binnekant. Hoe durf iemand hulle dan kritiseer? Hoe durf iemand jou vertel hulle is verkeerd ingespan, feitelik foutief, vervelig, herhalend, onoorspronklik? Hoe durf iemand van jou verwag om selfs sommige van hulle uit te vee? To kill your darlings?
Jy lees die verslag deur en jy gaan die fases van verdriet binne: ontkenning, woede … die hele pynlike pad tot by aanvaarding. Daarby kom jy gewoonlik eers uit wanneer jy klaar geworstel het deur al die aanbevelings en besef jy het beslis jou manuskrip verbeter.
Ek het besluit dit gaan maar oor ego. Of dalk juis die gebrek daaraan. Hoe onsekerder ‘n mens van jouself is, hoe moeiliker is dit seker om kritiek te aanvaar. Aan die ander kant kan ‘n skrywer seker ‘n onrealisties hoe dunk van sy eie werk he – maar ek ken nie so iemand nie.
Dit gaan ook daaroor om jou werk van jouself as persoon te kan skei. Netsoos ons weet ‘n ouer keur die kind se verkeerde dade af, maar bly lief vir die kind. Die keurder/redakteur gee aanbevelings oor jou werk – hy keur jou as persoon nie af nie.
Al hierdie dinge besef jy op die vreugdevolle oomblik wanneer jy ‘n verslag afgehandel het en daardie manuskrip gereed is om finaal weg te stuur. Maar volgende keer het jy dit alles weer vergeet. En die stryd begin van vooraf …
En dis net so moeilik om iemand se werk te krit- want jy as skrywer weet hoe seer elke woord kan maak. Ek moes nou net my opinie oor ‘n medeskrywer se manuskrip stuur, en so graag as wat ek wil help, is dit nie ‘n maklike proses nie.
En natuurlik help dit ‘n mens as jy weet die persoon wat die verslag skryf, weet ook hoe dit is om aan die ontvangkant te wees!