Is dit regtig WERK waarmee ek my besig hou?

Ek het besluit die antwoord op hierdie vraag lê in jou eie benadering tot die saak. As ek nou terugkyk, besef ek ek was self nie doodseker van die antwoord toe ek destyds tuis begin werk het nie.

‘n Vriend het eenmaal opgemerk dis belangrik om so ‘n ietsie te hê om te doen – en hy’s nie ‘n gemene mens nie, hy het net nie verstaan dis vir my ‘n saak van erns nie. En ek het nie die moed gehad om hom reg te help nie! Vandag sou ek hom nie daarmee laat wegkom nie, maar ekself het ‘n lang pad gekom sedert daardie dag.

Ek moes eers ‘n mate van sukses behaal en sien ek verdien darem genoeg om ook ‘n bydrae tot die gesin se finansies te maak voor ek regtig begin glo het in my werk. Dit beïnvloed die manier waarop jy oor jou werk praat – en dit beïnvloed wat ander mense daarvan dink.

Voordele is daar baie. Die grootste voordeel? Geen baas wat die lugkastele bou en jy moet hulle pienk verf nie – jy kan jou eie lugkastele bou en hulle self enige kleur verf waarvoor jy lus is. Geen dodelike roetine, geen spitsverkeer, geen kritiese kollegas nie, geen kantoorpolitiek, nie lang ure vasgekeer in ‘n kantoor nie. Niemand is geskok as jy onwelvoeglik geklee gaan in die somer of in die winter met jou skootrekenaar binne-in die bed klim nie. Niemand kyk hoeveel koppies tee jy drink nie, niemand loer oor jou skouer of skinder by die ander oor jou nie. Jy kan die voëltjies deur jou venster kyk na hartelus, jy kan ‘n boom omhels, jy kan see toe ry en na die branders kyk – as jy wil.

Ek is ‘n op-en-af mens wat met rukke en stote werk. ‘n Vaste roetine werk nie vir my so goed soos vir iemand anders wat ‘n meer gelykmatige geaardheid het en wat vir lang tydperke kan konsentreer nie. By die huis kan ek my oppe en affe bestuur soos dit my pas.

Kortom – jy kan doen wat jý wil, nie wat iemand anders wil nie. (Binne perke, natuurlik!)

Nadele? Ja, ‘n paar … soos dat die no work, no pay beginsel ongelukkig geld. En al ruik die blommetjies hoe lekker – hulle betaal nie so goed nie!

Snaaks, ek kan nou aan geen verdere nadele dink nie! As hulle daar is, word hulle eenvoudig oorheers deur al die geweldige gevoel van vryheid wat ek ervaar.

As ek al die positiewer dinge moet probeer opsom, kan ek net sê dat jy beheer oor jou eie lewe kan neem wanneer jy van die huis af werk. Jy kan doen wát jy wil, wanneer jy wil, hoe jy wil – solank jy net die verlangde resultate lewer, gee niemand om nie (dis nou behalwe die kat en die kanarie wat honger ly en die man en die kinders wat afgeskeep voel wanneer jy die heeldag die blomme geruik het en nou skielik twintig uur aanmekaar moet werk!)

O ja, daar is nog een nadeel: Jy kan baie alleen raak. Daar is nie die groepsgevoel wat ‘n mens ervaar wanneer jy saam met ander mense werk nie (al maak hulle jou soms gek). Daarvoor is sms’e en e-pos vir my onontbeerlik as maniere om in kontak met die buitewêreld te bly. Maar die grootste geluk wat my getref het, is die Romanzaskrywersblog waaraan ek saam met mede-skrywers van Lapa se Romanzareeks behoort. Ons het vir mekaar kollegas geword en ons deel die daaglikse vreugdes en pyne van ‘n lewe agter ‘n rekenaar met net jouself as geselskap.

Wenke? Jy het ‘n goeie skoot dissipline nodig. En jy moet regtig glo in wat jy doen. As jy diep binne-in voel dis eintlik nie ‘n regte werk nie, gaan ander mense ook so dink.

My werksdag begin in teorie so teen negeuur wanneer die kind en die man weggehelp is, die diere kosgegee en die lyf geoefen is, die wasgoed op die draad en die hondehare gestofsuig. In die praktyk lui die telefoon sodra ek aan die gang is, iemand wat ondersteuning nodig het kom kuier, die son skyn so lekker buite, daar is dringende administratiewe goed wat gedoen moet word en die rekenings moet betaal word. En skielik is dit vyfuur en jy was die hele dag druk besig, maar daar is nie ‘n steek WERK gedoen nie.

Die grootste voordeel? Die algehele vryheid. (Maar ons weet almal vryheid bring verantwoordelikheid …)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s