Dit lyk my ek wil alte graag my brood weerskante gebotter he. Dis vir my altyd moeilik om tussen mense en hul sieninge te kies, want ek sien albei se kant in. In enige situasie wil ek gewoonlik al die alternatiewe beproef (en behou as ek kan). Dit maak my lewe seker interessant, maar ook onnodig ingewikkeld. Dit sou seker eenvoudiger gewees het om dinge net in swart of wit te kon sien. Maar ek is altyd erens in die grys gebied.
So is dit nou weer. Ek het die wonderlike geleentheid om oorsee te gaan en vir my een kind te gaan kuier. En nou? Nou’s ek dood hartseer omdat die ander een nie kan saamgaang nie!
Sal ek ooit tevrede wees?
Ja, wanneer hulle weer albei onder my dak is. En ek weet daardie geleenthede gaan vorentoe al skaarser word.
Sug …