Hierdie storie het in Huisgenoot van 13 September 2007 verskyn en was een van die waaraan ek die hardste moes werk voor dit geskik was vir publikasie.
“Gaan bad nou asseblief tog, Marlene, my maag is al seer gelag!” Sonika trek die kamerdeur dankbaar agter haar toe. Sy moet sowaar ‘n bietjie asem skep solank haar vriendin in die badkamer besig is; Marlene is vanaand weer stuitig verby.
En hoe gaan hulle twee saam ooit vannag tot ruste kom in die pragtige ou koperkatel? Die ander klomp is almal in kamers met respektabele driekwartbeddens, maar hulle twee se plek lyk pure wittebroodsuite. Sy is een wat van haar persoonlike ruimte hou, en hulle is darem nie meer kinders nie.
Sonika sak op ‘n bankie onder ‘n ou peperboom neer. Die maanlig lê bleek oor die klein binnehof van die Lord Milner; donker skadu’s huiwer onder die knoetsige ou bome. Die pikswart Karoohemel is besprinkel met glashelder sterre. Toe die krieke vir ‘n oomblik stilraak, kan sy Suzanne se hoë lag hoor, gevolg deur Hendrien se bedaarde diep stem, sekerlik weer een van haar onvergeetlike stories aan die vertel. Uit die volgende twee kamers hoor sy niks, maar sy ken haar vriendinne so goed dat sy presies weet wat in elke kamer aangaan.
Die hoeveelste jaarlikse wegbreek van die Loslit Leesklub is dit nou al? Seker maklik vyftien jaar gelede het sy en Marlene eendag oor ‘n koppie koffie impulsief besluit hulle gaan ‘n leesklub begin – en dit gaan ‘n anderste leesklub wees. G’n stywe vergaderings en formele lesings slegs oor polities korrekte of letterkundig hoogaangeskrewe boeke wat statusbewuste siele lees net omdat dit die inding is nie. O nee, die Loslit Leesklub sou ‘n loslit aanslag hê, lees wat hulle wil en vergader soos en waar hulle wil. G’n wonder hulle mans het sommer vroeg-vroeg al skertsend van die Loslyf Leesklub begin praat nie!
Lees verder by https://altacloete.wordpress.com/skryfwerk/kortverhale/geseende-sameswering/